Die NGV en die aanslag op ons Vryheid

30 August 2018
Views 1 346


Hoe meer mag die staat het, hoe minder vryheid het die individu. Een van die grootste aanvalle nog op individuele vryheid kom in die vorm van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Suid-Afrika se staatsgesondheidsdiens sukkel tans geweldig onder verskeie probleme wat te doen het met die tipe burokrasie en gebrek aan aansporings wat eg is aan die staat. Die staat kan eenvoudig nie iets so gekompliseerd soos ’n gesondheidsdiens bestuur nie. Staatsbeheer beteken dat pryse konstant styg en arbitrêr is, en daar is al hoe minder plek vir tegnologiese deurbrake en innovasie. Die doel van die NGV is goeiegehaltesorg vir alle Suid-Afrikaners; die resultaat gaan die vernietiging van al SA se gesondheidsdienste wees.

Wanneer die staat betrokke is in ’n sektor, bestaan die konsep “gratis” eenvoudig nie. Die NGV gaan nie gratis wees nie. Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler, wat al klaar so baie moet opdok vir die regering se mislukkings (Eskom, SAL, Transnet, die posdiens, die stygende petrolprys, en al hoe hoër inflasie) gaan gevra word om eenvoudig sy belt stywer te maak. Om alle gesondheidsdienste in die land te sentraliseer, gaan beslis nie goedkoop wees nie. Wanneer die staat misluk, misluk dit op ’n massiewe skaal; en indien die staat se vingers in talle pasteie is, kan dit die mislukking van die hele ekonomie beteken. Met die vryemark kan ons self besluit waarop ons ons geld wil bestee, en kies tussen verskillende dokters en hospitale. Die beste manier om pryse te verlaag is meer kompetisie, nie ’n staatsmonopolie nie.

Pasiënte wil self besluit na watter dokter hulle gaan. Dokters wil die keuse hê waar hulle kan werk, en dan watter tarief hulle kan vra vir hul dienste. As hulle tariewe te hoog is, of hulle kom ’n pasiënt te na, gaan hulle besigheid verloor. Daar is aanspreeklikheid in die vryemark; wanneer die staat ’n monopolie afdwing, is niemand aanspreeklik nie en die pasiënte ly daaronder.

In die vryemark moet maatskappye kompeteer met mekaar. As hulle nie goed genoeg is nie, gaan hulle onder. Die gehalte van verskeie produkte en dienste styg, want maatskappye moet verbruikers oortuig dat húl aanbieding die verbruikers se geld verdien, en nie dié van hul mededingers nie. Ongelukkig is die regering reeds betrokke in gesondheidsorg in SA – die resultaat van sy konstante inmenging is dat pryse styg (óók in die privaat sektor), want die inmenging verdraai die ware koste van dienste en produkte. As daar uitbuiting plaasvind in die vryemark, kan dit aan die lig kom en ons kan die verantwoordelike partye daarvoor straf.

As die NGV geïmplementeer word, gaan die mense keer ná keer uitgebuit word ten gunste van politici en mense wat die “regte” konneksies geniet – tensy ons dalk tot voor in die ry by die hospitaal sal kan spring indien ons die regte persoon omkoop.

Die NGV is bestem om ’n mislukking te wees, want die staat se beheer daarvan word ingebou van die begin af. Die staat kan nie die komplekse natuur van gesondheidsorg hanteer nie. Selfs in ’n meer gevorderde ekonomie, soos in die Verenigde Koninkryk, het die National Health Service (NHS) konstant probleme. Dit maak nie saak hoeveel geld ’n mens daaraan bestee nie; te min geld is nie die oorsprong van probleme nie, die feit dat die regering in beheer is, is.

Elke individu moet verantwoordelik wees vir sy eie gesondheid. Ons kan mekaar help, as ons kan besluit wat ons met ons geld wil doen – Suid-Afrika sal in sy geheel beter vaar as elkeen beter na hom-/haarself kyk en werk om te verseker dat hy/sy in die toekoms gesonder gaan wees. Die regering sien homself as ons redder (byvoorbeeld die belasting op suiker en die Wet op die beheer van tabakprodukte) en dus dink die regering hy moet na ons omsien, ongeag wat dit gaan doen aan die huidige, suksesvolle privaat gesondheidsdienste en die ekonomie.

Die feit dat die regering wil voortgaan met onteiening sonder vergoeding, het reeds ’n groot negatiewe effek gehad op die rand en enige kans om die ekonomie te laat groei. Mense wat dit kan bekostig, kyk na opsies om oorsee te gaan. Wanneer hulle trek, gaan dit minder belasting hier in SA beteken, en dus minder geld vir die staat se projekte en dienste. Al bly hulle hier, het hulle genoeg geld dat hulle na Europa of die VSA kan gaan vir mediese dienste. Sodra die NGV geïmplementeer word, gaan die rykes beslis nie daaronder ly nie. Middelklas- en arm Suid-Afrikaners gaan sit met die stygende kostes en probleme, want hulle het eenvoudig nie die opsie om landuit te gaan nie.

As die staat enigsins betrokke gaan wees, moet dit ’n baie kleiner rol speel. Dit sal beteken dat dit kan fokus op dienste vir mense wat geen mediese dienste op hul eie kan bekostig nie. Hoe nouer die rol van die staat, hoe meer sal dit konsentreer om die beste moontlike diens te lewer, in plaas van die grênd ideologiese skema van totale nasionalisering wat gepaard gaan met die NGV. Dit maak nie saak wie tans in beheer is van die land se regering nie; vir hoeveel jare al was die staat ten nouste in beheer van Suid-Afrikaners se lewens, en ons probeer nou nog om die impak daarvan te verwerk. Ons kan eenvoudig nie die regering met iets só belangrik soos ons gesondheid vertrou nie.

Chris Hattingh is ’n navorser van die Vryemarkstigting.  Hy het ’n MPhil in Business Ethics van Stellenbosch Universiteit en is die skrywer van gepubliseerde artikels wat fokus op verbruikers regte, ekonomiese vryheid, ongelykheid en individuele vryheid.

This article was first published in Maroelamedia.co.za on 30 August 2018

 

Comments on Die NGV en die aanslag op ons Vryheid