Die COVID-19-afsondering: juridies en prakties gedoem

14 April 2020
Views 286


Regsgesproke het ons onbekende waters betree. Dit is dus miskien verstaanbaar dat die regering besig is om verkeerd te loop. Ook, in die praktyk kan die koronavirusregulasies nie nagekom word in ‘n samelewing soos dié van Suid-Afrika nie. Wat ook al die geval mag wees, die koronavirusregulasies moet grootliks tersyde gestel word en vervang word deur minder beperkende maatreëls om die pandemie te beheer.

 

Die regulasies wat ingevolge die Rampbestuurwet op onderskeidelik 18 en 25 Maart uitgereik is, het gelei tot ‘n nasionale staat van inperking (‘n sogenaamde “lockdown”). Die inperking sal na verwagting tot 16 April voortduur, maar die moontlikheid bestaan dat dit verleng kan word.

 

Daar word aanvaar dat, ten minste grondwetlik, geen reg absoluut is nie. Maar die Grondwet is duidelik oor hoe regte beperk mag word, en indien nodig, opgeskort mag word. Gegewe ons geskiedenis is dit geen verrassing nie dat daar baie streng grondwetlike voorsorgmaatreëls bestaan, selfs in noodtoestande, wat ons (probeer) beskerm teen magsmisbruik.

 

Die nuutste regulasies dwing alle Suid-Afrikaners om tuis te bly en hul kantore, besighede en werkplekke te sluit, behalwe vir ‘n paar in sekere kategorieë wat vrygestel is. Die ekonomiese gevolge hiervan gaan ongetwyfeld negatief wees. Sommige skat dat die inperking tot meer as ‘n miljoen ekstra werkloses kan lei, en die BBP kan met tot 23% verswak.

 

In hierdie opsig is artikel 22 van die Grondwet, wat die vryheid verskans om ‘n professie, handel, of beroep vrylik te kies, onderhewig aan regulering.

 

Soos my kollega, Jacques Jonker, opmerk laat die interne logika van artikel 22 nie toe dat die beoefening van ‘n beroep volledig verbied word nie. Daar word voorsiening gemaak vir die regulering van ‘n beroep, maar as die beoefening van daardie beroep geheel en al verbied word, is daar logies niks om te reguleer nie. Die wydverspreide beperkings op sakebedrywighede tydens die afsondering blyk met ander woorde ‘n totale opskorting van artikel 22 te wees, eerder as ‘n blote beperking, aangesien die wesenlike inhoud van die reg geblus is.

 

Dieselfde kan gesê word van artikel 21(1) oor die reg op vryheid van beweging. Soos prof. Gerhard Erasmus, wat bygedra het tot die formulering van die Grondwet, opmerk in die geval van die beperking van ‘n reg: “Die basiese kern van ‘n reg moet altyd bly. Respek vir die wesenlike inhoud van ‘n reg bied ‘n finale grens vir beperkings.” As hierdie grens oorgesteek word – wanneer die kern van ‘n reg nie meer bestaan nie – het ons te doen met ‘n “ontkenning van ‘n reg”. Die beperking op beweging sedert die inperking op 27 Maart begin het, is nie bloot ‘n beperking nie, aangesien dit nou die standaardreël is dat geen mens hul huis mag verlaat nie, behalwe in die geval van aktiwiteite wat in ‘n geslote lys vrygestel is. Daar kan dus nie meer beweer word dat dit “vryheid” is nie.

 

Die beperkinge het ‘n paar belangrike gevolge. Dit wil voorkom asof ons in ‘n de facto-(feitelike) noodtoestand bevange is, soos beoog in artikel 37 van die Grondwet, eerder as ‘n ramptoestand, soos beoog in die Rampbestuurwet van 2002. Dit beteken dat verskillende grondwetlike regte opgeskort is en nie bloot kragtens artikel 36(1) beperk is nie.

 

Die probleem met die de facto-noodtoestand is dat dit ongrondwetlik is. Daar is geen voorsiening in die Grondwet vir ‘n “geïmpliseerde” of “implisiete” noodtoestand nie. Inderdaad, ‘n noodtoestand moet uitdruklik deur die president ingevolge die Noodtoestandwet van 1997 verklaar word. 'n Verklaring soos dié sal onmiddellik verskeie wetgewende en geregtelike voorsorgmaatreëls in werking stel, wat tans afwesig is.

 

Die de facto-noodtoestand moet de jure (wettig) gemaak word. Maar hierin lê die waarskynlike rede waarom die president nie ‘n noodtoestand verklaar nie: Die grondwetlike vereistes vir so ‘n noodtoestand is nie aanwesig nie. Om ‘n noodtoestand te verklaar moet die voortbestaan van Suid-Afrika op die spel wees, en daar moet ‘n ineenstorting van vrede en orde wees. Nie een van hierdie vereistes word bevredig deur die huidige uitbreek van die koronavirus nie.

 

Ek bevraagteken nie die erns van die pandemie nie, maar ons moet in gedagte hou dat die sterftesyfer laer is as vir ander algemene siektes in Suid-Afrika. Met ander woorde, as ons die uitbreek van die koronavirus as ‘n bedreiging vir die voortbestaan van Suid-Afrika beskou, en dit gebruik as rede vir die verklaring van ‘n noodtoestand, dan moet ons die beginsel deurgaans toepas en onsself berus by ‘n permanente noodtoestand totdat al hierdie ander, erger siektes ook hok geslaan word.

 

Dit is ook opmerklik dat ‘n inperking in Suid-Afrika op dieselfde vlak as in ander lande heeltemal onuitvoerbaar is.

 

In die townships, maar veral vir mense in shanty-huise, is dit onredelik om te verwag dat hulle drie weke lank in sulke klein ruimtes beknop moet sit. Die realiteit hiervan is reeds duidelik, met baie mense in die townships wat bloot die inperkingsregulasies ignoreer. Dit was voorsienbaar en dit is hoogs verstaanbaar.

 

Diegene onder ons wat geneig is om oordeelkundig te wees bevind onsself dikwels in ruim huise. Ons moet besef dat niemand die skuld het vir die teenwoordigheid van COVID-19 nie, en dat ons versigtig moet wees wanneer ons ander oordeel indien hulle slegs vreedsaam met hul daaglikse lewens voortgaan en nie die regulasies nakom nie. As dienaars van die reg moet ons adviseer dat die regulasies nagekom word, maar dit is hoe ver ons verantwoordelikheid strek. Verder sal ek aanbeveel dat ons ons beoordeling sal terughou. Hierdie is buitengewone tye, maar normale optrede is nie iets waarvoor ek ander wil kritiseer nie, veral nie as die nakoming van die regulasies in hul omstandighede meer irrasioneel sou wees as om dit te verontagsaam nie.

 

Dit is interessante en onbekende tye vir die Suid-Afrikaanse regsleer. Hoe die howe en die regsgemeenskap op die inperking gaan reageer, is iets wat ons moet dophou. Maar bowenal moet ons dit veral in gedagte hou dat dit die doel van ‘n grondwet is om die omvang en uitoefening van regeringsmag te beperk in favorem libertatis. Die beskerming van die vryheid van die individu is inderdaad die raison d’etre van die staat.

Hierdie artikel is aanvanklik op Solidariteit se Koronavirus Krisissentrum-blad gepubliseer.

Comments on Die COVID-19-afsondering: juridies en prakties gedoem