Produksie en spaargeld dryf n ekonomie

27 February 2020
Views 375


The Suid-Afrikaanse ekonomie staar ‘n spaarkrisis in die gesig. Burgers kan nie bekostig om genoeg geld te spaar om die nodige kapitaal vir belegging te genereer nie. Dit is te danke aan die versmorende effek van regeringsbeleid, soos hoë belastingkoerse en heffings op brandstof.

Baie dinge in die veld van ekonomie is debatteerbaar, maar sekere konsepte is onweerlegbaar. Twee sulke konsepte, of altans wette, vorm die fondasie van ekonomie: aanbod skep vraag, meer bekend as “Say Se Wet”, en spaarsaamheid dryf ekonomiese groei.

Say Se Wet beteken nie dat om bloot iets in die mark te produseer en te verskaf outomaties ‘n vraag vir daardie produk skep nie. Wat Say Se Wet beteken is dat mens eers goedere en/of dienste moet produseer om ‘n inkomste te genereer wat dan op ander goedere en dienste spandeer kan word. In eenvoudige terme beteken dit dat mense eers die behoeftes van ander persone in die mark moet bevredig om sodoende na hul eie behoeftes te kan omsien.

Inkomste wat gegenereer word deur produktiewe aktiwiteite word nie net gebruik vir verbruiksdoeleindes nie. Dit word ook vir iets meer krities gebruik: spaar.

Besparing is die kapitaal wat beskikbaar is vir beleggings. Belegging is nodig om te kan produseer. Ekonomiese groei is fundamenteel ‘n verbetering in die vermoë om na mense se behoeftes te kan omsien asook om dit meer doeltreffend te kan doen. Deur te spaar dryf mens ekonomiese groei omdat dit hoër vlakke van produksie moontlik maak.

Die belangrikheid van produksie en besparing was goed geïllustreer in die Amerikaanse belastingsweerstandadvokaat, Irwin Schiff, se 1985 strokiesprent, How an Economy Grows and Why It Doesn't.

Verbeel jou ‘n primitiewe samelewing waar mense al hul tyd spandeer op vis vang met hul kaal hande. Elke persoon kan slegs een vis per dag vang. Dit is al waarvoor hul tyd het, aangesien die tyd wat aan enigiets anders spandeer kan word beteken dat hul kanse om ‘n vis te vang skraler is. Hul daaglikse verbruik is een vis per dag; hul verbruik dus alles wat hul produseer.

Eendag besluit een persoon om slegs helfte van die enkele vis wat hul gevang het te eet, en die ander helfte te spaar vir die volgende dag. Hulle beplan om die volgende dag al hul tyd te spandeer aan die konstruksie van ‘n net, om sodoende meer vis te kan vang in die toekoms. Hulle besluit dus om ‘n sekere gedeelte van hul verbruik van ‘n verbruikersproduk op te gee en dit te spaar, sodat hulle dit kan belê in die produksie van ‘n kapitale produk. Die kapitaalproduk verhoog hul totale produktiewe kapasiteit te danke aan die feit dat hul met die net vyf visse per dag in plaas van net een kan vang.

Op die einde van die dag, deur ‘n gedeelte van hul verbruik uit te stel en dus te spaar om sodoende te kan belê in die produksie van ‘n kapitaalproduk, is hul beter af as wat hul was. Hulle het nou verskeie opsies met betrekking tot wat hulle met die oortollige vis wat hul vang te doen. Hulle kan van dit hou in die net, en onmiddellike verbruik daarvan uitstel om tyd te spandeer aan iets anders, soos ‘n luilekker aktiwiteit of die produksie van iets anders soos groente. Of hul kan van die vis met ander mense ruil vir ‘n opbrengs op hul belegging, sodat meer mense hul tyd kan bestee aan ander produktiewe aktiwiteite, eerder as visvang.

Die punt van die storie is dat deur ‘n gedeelte van mens se onmiddellike verbruik uit te stel, en dus spaarsamig te wees, dit moontlik word om te belê in die produksie van kapitaalgoedere wat dit in ruil weer moontlik maak vir individue om nie net hul eie behoeftes, maar die van ander, ook te kan bevredig.

Besparing eerder as spandering en verbruik is wat ‘n ekonomie in staat stel om te groei. Tog is besparing of spandering nie moontlik sonder produksie nie. Op die einde van die dag is dit van kritiese belang dat ekonomiese rolspelers tyd toewy aan produktiewe aktiwiteite wat egte goedere en dienste produseer. Wat van nog meer kardinale belang is, is dat produsente dit wat in aanvraag is moet produseer, anders is die kapitaal wat belê is in die produksieproses misplaas en vermors. Dit is ook belangrik dat verbruikers nie alles wat geproduseer word onmiddellik verbruik nie. Sommige van dit moet gespaar word en herlei word na die produksie van kapitaalgoedere wat ‘n voorvereiste is vir toekomstige voorspoed. As die sosio-politiese kultuur in ‘n ekonomie een van “kry” sonder om te “gee” is, en van verbruik sonder selfbeheersing, is daardie ekonomie gedoem.

Beginselvaste argumente teen die premisse van belasting tersyde, die oorgrote meerderheid van die bevolking kan saamstem dat mense teen belaglike koerse belas word, en dat skaars enigiets behalwe mors en plunder in ruil gegee word. Dit is ‘n onreg.

Ons kan net hoop dat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, die belange van burgers eerste sal stel in sy volgende begrotingstoespraak einde Februarie. Aansienlike afnames, nie net in inkomstebelastingskoerse nie, maar ook in ander belastings en heffings soos BTW en brandstofheffings, moet aangekondig word.

Suid-Afrikaners moet toegelaat word om meer van hul geld in hul sakke te hou sodat hul vir die toekoms kan spaar. Dit sal ook die druk op baie burgers om skuld aan te gaan verlig. Dit is krities dat ons die kapasiteit van die plaaslike spaarpoel vergroot om sodoende belegging te kan befonds. Investering is die brandstof van enige produksieproses. Dit kan slegs gebeur as die staat sy spandabelrigheid aansienlik verminder in tandem met die vermindering van belastingkoerse, en die ekonomiese vryheid wat dit van burgers weggeneem het met sy intervensionistiese en paternalistiese beleide, terug te gee.

Jacques Jonker an intern at the Free Market Foundation. The views expressed in this article are those of the author and not necessarily those of the Free Market Foundation.

This article was first published on Maroela Media on 21 February 2020

 

Comments on Produksie en spaargeld dryf n ekonomie